Alumni Testimonial - Petro Uren

Toe Karen my vra om my storie te skryf het daar soveel dinge deur my kom gegaan. Hoe kan mens op skrif vir mense regtig vertel van alles wat jy voel en ervaar as jy op sesjarige ouderdom opgeneem word in ‘n kinderhuis.

Ek was ses jaar oud toe ek by Huis Andrew Murray se deure ingestap het. Ons was 5 kinders waarvan drie in die kinderhuis opgeneem is is en twee in pleegsorg geplaas word. Die een dag is jy nog ‘n gesin en die volgende dag is almal uitmekaar. Al die vreemde gesigte en aanpassings wat jy as sesjarige moet maak is baie erg. Jy het ‘n nuwe skool, nuwe bed en alles is vreemd. Jy leer om vinnig aan te pas. Dit is ‘n kwessie van jy swem of sink.

Elkeen wat opgeneem word in ‘n kinderhuis moet vinnig besluit werk jy saam of is jy teen die stroom. Wil jy ‘n sukses maak van jou lewe of wil jy teruggaan na jou omstandighede. Niemand wil in ‘n kinderhuis wees nie maar op die einde is dit die beste plek waar jy as kind opgeneem kan word as jou wêreld uitmekaar val. Dit is die plek wat weer vir jou stabiliteit gee in jou deurmekaar gemoed en wêreld.

Ja jy kry nie die kos waarvan jy hou nie of daar is baie reëls maar die kinderhuis bied ook vir jou baie geleenthede. Dit is so dat mense ‘n etiket hang om kinderhuis kinders. Dit is een van die moeilikste goed om te hanteer as jy in ‘n kinderhuis is. Wat mense van jou dink en hoe hulle jou hanteer al ken hul nie vir jou of jou omstandighede nie. Dit kos harde werk om aan jou selfbeeld te werk en bo jou omstandighede uit te styg. Huis Andrew Murray was vir my ‘n positiewe uitkoms.

Image

As ek terugdink was ek gelukkig daar. Soms het organisasies soos die vryburgers die lekkerste vrugte gebring wat ons kon eet soveel as ons wou. Sondae middae het ons altyd ‘n bederf van ‘n stukkie koek gekry waarna ons almal ook baie uitgesien het. Ons het nooit honger gaan slaap nie en ons bed was altyd skoon. Alhoewel jy nooit nuwe klere gekry het nie was dit wat jy gekry het skoon en netjies. Ons het geleer om hard te werk. Ons moes ons huiseenhede self skoonmaak en berge skottelgoed was. Maar dit alles het ‘n positiewe invloed op jou lewe as volwassene.

Ek was bevoorreg om Graad 8 wonderderlike vakansie ouers te ontmoet wat ‘n lang pad saam met my gestap het. Vakansie ouers en individue wat betrokke is by so ‘n instansie speel ‘n groot rol in die kinders se ontwikkeling en voorbereiding vir hul volwasse lewe.

Ek het ook die geleentheid gehad om verder te studeer. Die kinderhuis het vir my ‘n lening toegestaan wat ek moes terug betaal toe ek begin werk het. Vandag is ek self werksaam as bemarker/fondswerwer vir ‘n kinderhuis. Die bevrediging wat ek daaruit put is groot.

As ek terugkyk besef ek die Here het my voorberei al die jare vir die werk wat ek nou doen. Hy het mense oor my pad gestuur wat my ondersteun en ‘n positiewe invloed op my lewe gehad het. As ek moes kies sou ek nie my kinderjare andersins wou gehad het nie.

Dankie aan Huis Andrew Murray, die personeel en donateurs wat my lewe gevorm het gedurende die 12 jaar wat ek daar gewoon het.

- Petro Uren