Huis Andrew Murray (HAM) Kinder- en Jeugsorsentrum (kinderhuis) vier hul 120ste Verjaardag

PERSVRYSTELLING: Huis Andrew Murray (HAM) Kinder- en Jeugsorsentrum (kinderhuis) vier hul 120ste Verjaardag

16 Januarie 2018

“Ons het hulle te veel aangesien en oor die hoof gesien as te klein en van te geringe waarde; ons het gemeen om in die toekoms, as daar iets van hulle geword het, aan hulle te arbei - terwyl die Here God ons deur geheel sy Woord op die ondubbelsinnigste wyse verklaar die Koninkryk der hemele vir die kinders is.” Hierdie woorde wat Andrew Murray reeds in 1863 geskryf het, gee ‘n duidelike blik op die belangrike plek wat kinders in sy hart gehad het. Dit weerspieël ook sy lewenslange passie vir die versorging en opvoeding van kinders en jongmense.

Hierdie passie het deur Andrew Murray se hele lewe gestalte gevind in die vele opvoedkundige instansies waarby hy as stigter betrokke was, veral tydens die jare tussen 1871 en 1900 toe hy die leraar van die Wellington Moedergemeente was. Gedurende hierdie jare kom die Hugenotenskool (Hugenoten Dames Seminarie), Die Sending Instituut (vir manne), Friedenheim Sendinginstituut vir vroue en Het Meisjes Arbeidsschool (ook bekend as Girls Industrial School), wat later tot die Andrew Murray Kinderhuis sou ontwikkel, onder Murray se leiding tot stand.

In De Kerkbode van 13 Januarie 1898 skets Andrew Murray sy visie vir die beplande “Meisjes Arbeid School”. Die inrigting was aanvanklik vir meisies van “fatsoenlike ouers” wat as gevolg van die droogte en ander omstandighede verarm was, bestem. Murray se doel was om die meisies deur middel van die nodige opleiding in staat te stel om ʼn eie inkomste deur “eerlijke broodwinning” te verdien. Die klem sou dus op “industriële opleiding”, waarvoor die staat ʼn bedrag van £12 per dogter sou bydra, val.

Om hierdie rede het die dogters die grootste gedeelte van die dag aan naaldwerk of huiswerk soos was, stryk, kook en bak bestee. Hulle het ook minstens twee ure elke dag onderrig in “boekgeleerdheid” ontvang. Na die eerste jaar van opleiding, sou die dogters uitgeplaas kon word by “modemaaksters” of self by huisgesinne as “huishoudsters of eene hulp bij eene moeder” vir praktiese ervaring. Na drie jaar sou die dogters vry wees om óf terug te keer na hul ouerhuise óf om te gaan werk.

Aanvanklik is ongeveer 20 dogters van oor die hele die Kaapkolonie hier versorg, maar daar was volgens Andrew Murray steeds “honderde ander dogters” wat by hierdie tipe opleiding baat sou kon vind. Teen Oktober 1898 skryf hy: “Wij hebben te lang gewacht met dit werk te doen. Laat ons de moeite niet ontzien om leerlingen te vinden.” Hy noem ook dat daar reeds met die bou van ‘n groter skoolgebou op die perseel aan die bopunt van Murraystraat in Markstraat, Wellington begin is.

In De Kerkbode van 27 April 1899 word berig: “Het nieuwe gebou voor De Meisjes Arbeidsschool is nu gereed, en Maandag konden 20 leerlinge die vroegere woning gehuisvest waren, overtrekken. Er is nu ruimte oor 40.” Murray vermeld dat daar reeds enkele nuweling aangekom het, maar dat daar nou aansoeke van nog meisies ingewag word.

Onder leiding van Andrew Murray en sy mede-leraar, ds. Albertijn, het die Wellingtonse Moedergemeente ʼn reuse aandeel in die onderhoud van die Meisjes Arbeidsschool gehad. Van meet af was dit die gemeente wat vir die inrigting se behoeftes verantwoordelik was. Wyke het om die beurt maandeliks kos, groente, vrugte en hout verskaf. Die trustees, waaronder Andrew Murray en ds. Albertijn, het die bestuur waargeneem. Die dogters se ouers moes die basiese klere verskaf en die staat het ‘n klein staatsubsidie vir elke dogter bygedra.

120-year-ham-image-2
120-year-ham-image-3
120-year-ham-image-1