Charity Drive Sleep Campaign

Nuwe beddens bring nuwe drome vir Huis Andrew Murray

Die Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum (HAM) het op Vrydag 10 Maart hul inwoners se splinternuwe beddegoed en matrasse met ‘n heerlike geselligheid ingewy.  Hierdie nuwe, beter slaapgeriewe is alles te danke aan ‘n uitgebreide fondsinsamelingsprojek en ruim skenkings deur verskeie donateurs.

Volgens Karen Petersen, bemarkingsbestuurder van HAM, het die idee vir die “HAM Charity Drive Sleep” bykans ses maande gelede posgevat. “Ek en een van die donateurs, wat voorheen ‘n internasionale besigheidskonsultant was, het gesit en gesels oor ons drome en behoeftes by HAM. Ons het vir mekaar gesê dat kinders nie kan floreer as hulle nie ten minste lekker slaap nie en besluit om iets aan die saak te doen. Ons kinders se matrasse en beddegoed was al gaar,” het sy verduidelik.

Karen het aan die werk gespring en begin om fondse in te samel vir hierdie doel. Talle donateurs het bydraes gemaak en uiteindelik het hulle genoeg geld bymekaar gemaak om vir elke kind ‘n nuwe matras en beddegoed te koop. “HAM is bo alles ‘n familie-huis waar ons familiewaardes en ‘n veilige, stabiele omgewing vir elke kind wil skep. En ‘n goeie nagrus is ononderhandelbaar hierin,” het Karen gesê

Stephan Spies, verantwoordelik vir die bemarkingsportefeulje op HAM se beheerliggaam, het in sy toespraak tydens die geleentheid genoem dat fondsinsamelings ‘n uitdaging is in die huidige ekonomiese klimaat. “Dit is nie altyd maklik om die somme te laat klop en die begroting vir ‘n instansie soos HAM op te stel nie. Tog is dit elke jaar wonderlik om te sien hoe ons drome waar word – alles te danke aan die oop harte en hande van die gemeenskap en ons borge,” het hy gesê.

Verskeie van die donateurs en borge wat tot die sukses van hierdie inisiatief bygedra het, het tydens die geleentheid hul dank uitgespreek om by so ‘n projek betrokke te wees en vertel hoe dit hulle eie lewens verryk het. “’n Mens kan nie ‘n verskil in die samelewing verwag as jy nie self begin om ‘n verskil te maak nie. Ons maatskappy het dit besef en besluit om sosiaal verantwoordelike beleggings te begin maak,” het Rian Strydom van Old Mutual se Green Hands Investment Group gesê.

Nog ‘n donateur, JC Muller wat d.m.v. die Karoo to Coast fietswedren geld vir HAM ingesamel het, het dit beaam. “Ek en my gesin het by een van HAM se huise betrokke geraak en soveel in die proses geleer. Een van die belangrikste lesse is om die klein goedjies in die lewe te waardeer,” het hy gesê.

Een van HAM se inwoners het die waarde van hierdie projek vir die inwoners raak saamgevat toe sy die volgende opmerking gemaak het: “Ons ou dinge is saam met ons ou matrasse en beddegoed weggevat. Saam met die nuwe matrasse en nuwe beddegoed kom nou nuwe drome vir ons almal.”